Danksy die aantal individue wat Bergzicht Opleiding en Ontwikkeling se Gesondheid- en Verswakte-programme oor die laaste paar maande voltooi het, het gesinne in die Wes-Kaap, en veral in die Boland-streek, nou toegang tot die dienste van professioneel opgeleide, betroubare versorgers en metgeselle wat gekeur is deur hierdie nie-regeringsorganisasie (NRO) op Stellenbosch.

Bergzicht Opleiding en Ontwikkeling is ’n NRO toegewy tot die ontwikkeling van die vaardighede van arm, werklose, ongeskoolde en halfgeskoolde individue uit gemeenskappe in die Wes-Kaap deur sy vaardigheid-ontwikkelingsprogramme en kursusse.

Oor die afgelope paar jaar het baie bejaarde individue verkies om in die Wes-Kaap af te tree, veral in gebiede soos Stellenbosch, Franschhoek, Paarl en Somerset-Wes. Dit het gelei tot ’n oplewing in die  aanvraag na tuis-versorgers van gehalte in hierdie gebiede. Boonop is baie gesinne met siek kinders nie  in staat om betroubare versorgers te vind wat spesifiek opgelei is om kinders te versorg, en ook die geduld en deernis het om met hierdie kinders te werk nie.

Met die voorkoms van die mishandeling van bejaardes en kinders wat waargeneem is by individue wat in die sorg van private versorgers geplaas is, is dit noodsaaklik om te weet waarvoor om te soek in ’n gesondheid- en verswakte-versorger, sê mnr Adrian Bezuidenhout, Opleiding-bestuurder by Bergzicht Opleiding en Ontwikkeling.

“Sommige van die vaardighede wat ’n versorger moet hê sluit in basiese Eerstehulp-kennis, ’n begrip van goeie voeding, kennis oor hoe om ’n verswakte individu by te staan met hul mobiliteit, kennis oor hoe om persoonlike sorg te bied sowel as om hul kliënte se higiëne en geestelike gesondheid te bevorder. Boonop benodig hulle ook sagte vaardighede soos die vermoë om kalm te bly onder moeilike omstandighede, hope geduld, veerkragtigheid, ’n vriendelike, toeganklike geaardheid, en goeie kommunikasievaardighede. Ons moedig ons gegradueerdes ook aan om sorg aan te bied sonder om die persoon wat hulle versorg te ontmagtig.”

Terwyl sommige van die gegradueerdes wat die program voltooi by ouetehuise en aftree-oorde gaan werk, sal baie uiteindelik werk met bejaardes en kinders, insluitend babas, in private wonings.

“Al ons studente word nagegaan vir kriminele rekords aangesien die veiligheid en sekuriteit van die gesinne en individue wat ons gegradueerdes in diens neem uiters belangrik is vir ons organisasie. Ons onderneem ook opvolg-besoeke of oproepe om uit te vind of kliënte steeds tevrede is met die versorgers of metgeselle wat hulle in diens geneem het, en om uit te vind of daar gebiede is waarop die versorgers of metgeselle kan verbeter.”

Vir die afgelope paar jaar sedert sy geslaag het, het Stellenbosch-inwoner Janet Damane gewerk as ’n private versorger van bejaarde individue by La Cleménce, ’n luukse aftree-oord op Stellenbosch, sowel as by ’n paartjie in Die Boord en by vele ander wat private sorg benodig.

Die belangrikste kwaliteite wat benodig word om ander te versorg, meen Damane, is liefde en geduld.

“Wanneer jy ’n verswakte of siek pasiënt versorg benodig hulle jou liefde, geduld en sorg. Dit gaan nie net oor ’n salaris of die status wat jou uniform bring nie, maar dit gaan oor wat in jou hart is. Jy moet nooit hierdie soort werk doen uit desperaatheid nie, maar eerder omdat dit jou passie is.